Groot slag vir SA kanse in Cape Epic
2011-03-29 09:30
Kaapstad - Ondersteuners van Suid-Afrikaanse bergfietsry het Maandag ná die eerste skof van die Cape Epic-toer nie geweet of hulle moet lag of huil nie.
Suid-Afrika se Burry Stander en sy Switserse spanmaat, Christoph Sauser (36ONE-SONGO-SPECIALIZED), het hul sege Sondag in die proloog opgevolg met ’n indrukwekkende oorwinning in die eerste skof.
Hulle het die 89 km hier in 3 uur, 52 minute en 13 sekondes afgelê. Dié duo het hul voorsprong in die agtdaagse toer met meer as 3 minute vergroot. Dit was Sauser se 17de skofsege in die Epic.
Stander se welslae is voorafgegaan deur die slegte tyding dat Suid-Afrika se Kevin Evans sy sleutelbeen gebreek en dít ’n einde aan sy en David George (360Life) se aanslag gebring het.
Dit was ’n uitdagende dag in die saal. Dit was baie stowwerig en in baie gevalle moes jaers hoop en bid dat hulle nie met die grond kennis maak nie, omdat hulle eenvoudig nie kon sien waar hulle ry nie.
Groot klippe, baie los sand, steil klimme en vreesaanjaende afdraandes was die meer as 1 000 ryers se voorland en nie almal het die stryd gewen nie.
Evans het op die tegniese afdraand na Fisantboskloof ná die tweede groot klim van die dag hard geval nadat sy remme die gees gegee het.
“Ek het vroeër in die skof al agtergekom daar is fout met die remme.
“Die afdraand was regtig baie steil en die remme moes hard werk. Ek kon voel hoe die remme warm raak en dat ek besig was om krag te verloor.
“Ek was soos ’n wegholtrein,” het Evans onderweg na die hospitaal vertel.
“Ek moes toe maar ’n plekkie kies om te land. Ek het egter so hard geval dat ek dadelik geweet het daar is probleme.
“Die teleurstelling is groot en my hart is baie seer,” het Evans met ’n hoorbare knop in die keel gesê.
“Ek is egter nie klaar met die Cape Epic nie. Wat saak maak, is nie hoeveel keer jy platgeslaan word nie, maar hoeveel keer jy weer opstaan. Ek sal volgende jaar terug wees.”
Dinsdag se tweede skof oor 104 km is weer hier op die Saronsberg-wynlandgoed.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24