Groot makietie by atletiek
2009-08-14 18:44
Berlyn – Die 12de IAAF Wêreldkampioenskappe in atletiek het Vrydag in Berlyn afgeskop met ‘n reeks kulturele geleenthede – alles in die gees van sport en vriendelike kompetisie.
Die organiseerders van die geleentheid sal musiekkonserte, podium gesprekke, danse en internasionale kookprogramme aanbied.
Dit vind alles op verskeie verhoë voor die stad se bekende Brandenburg Hek plaas.
“Ons soek wêreldrekords, goeie sportmanskap en vrede,” het die burgermeester van Berlyn, Klaus Wowereit, aan die skare gesê.
Die openingseremonie het ‘n paar honderd mense getrek, insluitende atletiek ondersteuners en nuuskieriges.
Die polisie verwag ongeveer 10 000 mense by Vrydagaand se musiekkonsert.
Kunstenaars soos die Duitse sanger Patrice, die Britse pop-viool speler Nigel Kennedy en die Noorweegse groep a-ha sal onder andere optree.
Straatverkopers wat bier en wors verkoop het gesê dat besigheid stadig is, maar hulle hoop dat dit in die volgende paar dae sal optel.
Die kampioenskappe begin Saterdag en duur tot 23 Augustus.
- Sapa-dpa