Gordon Igesund in hospitaal
2013-02-13 13:13
Johannesburg – Bafana Bafana se afrigter, Gordon Igesund, is in die hospitaal met "erge maagpyn" opgeneem, het die Suid-Afrikaanse sokkervereniging (Safa) Woensdag gesê.
"Voorlopige toetse dui aan dat die Bafana-breier straks blindederm-ontsteking het," het Safa in 'n uitgereikte verklaring gesê.
Dr. Ephraim Nematserani, wat Igesund ondersoek het, glo die afrigter mag dalk blindederm-ontsteking hê.
"Deeglike ondersoeke word tans uitgevoer om die diagnose te bevestig," het Nematswerani gesê.
"Ons is egter vol vertroue dat hy vinnig weer terug sal wees op sy pos. Dit is niks ernstig nie."
Igesund is in Junie vanjaar as Bafana se afrigter aangestel en die span het vandeesmaand tot die kwarteindronde van die Afrikabeker-toernooi, wat deur Nigerië gewen is, gevorder.
Die 56-jarige mentor is die enigste afrigter wat vier verskillende klubs, Manning Rangers, Orlando Pirates, Santos en Mamelodi Sundowns tot 'n Premierliga-titel kon lei.
Volg Nuus24Sport op Twitter.