'G'n klag teen Oscar' – Valke
2012-11-21 13:19
Johannesburg – Suid-Afrika se Paralimpiese kampioen Oscar Pistorius het nie 'n klag van intimidasie of naamskending by die Valke gelê nie, het die polisie se georganiseerde misdaadeenheid in 'n verklaring gesê.
"Pistorius het nie 'n klag by ons [Valke] gelê nie, " het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder vir die Valke, bevestig.
"Ek kan bevestig dat hy die misdaadeenheid in Johannesburg besoek het en dat daar sekere uitdagings was, maar ons was in staat om die situasie op te los."
Ramaloko het gereageer op 'n berig in The Star dat 'n klag van naamskending teen Pistorius gelê is nadat die atleet 'n aanklag van intimidasie teen die voormalige sokkerspeler Marc Batchelor aanhangig gemaak het.
Die koerant het Woensdag berig dat Pistorius ontdek het sy meisie het hom met Batchelor se vriend, die mynmagnaat en vervaardiger van die realiteitsreeks Clifton Shores, Quinton van der Burgh, verkul terwyl hy in Londen was vir die Olimpiese en Paralimpiese Spele.
Pistorius het Van der Burgh glo daaroor gekonfronteer en hom gevloek. Batchelor het van die konfrontasie te hore gekom en Van der Burgh verdedig.
Pistorius en Batchelor het toe dreigende SMS'e na mekaar gestuur waarin Pistoruis glo gedreig het om Batchelor se bene te breek.
Albei partye het 'n klag gelê, hoewel Ramaloko bevestig het dat die Valke nie 'n saak teen die atlete of die ander twee mans ondersoek nie.
Batchelor het ontken dat hy enige dreigemente gemaak het en Pistorius wou nie kommentaar lewer nie, het The Star berig.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA