Glock in hoë-spoed-botsing
2009-10-03 11:20
Suzuka, Japan - Die Toyota-bestuurder Timo Glock is na 'n hospitaal gehaas ná hy in 'n ongeluk betrokke was tydens die kwalifiserende ronde vir die Japannese Grand Prix op Saterdag.
Glock het teen 'n hoë snelheid in 'n muur van bande vasgejaag en sal moontlik nie aan Sondag se Japannese Grand Prix deelneem nie.
Die Duitse renjaer het been- en rugbeserings opgedoen.
Hy het byna 10 minute lank in sy motor gebly, waar mediese personeel na hom omgesien het, waarna hy op 'n draagbaar na 'n ambulans gedra is. Hy is later per helikopter na 'n hospitaal geneem.
Glock het gewaai terwyl hy in die ambulans gelaai is, om aan te dui dat hy wel by sy positiewe is.
Toyota se spanhoof, John Howett, sê toetse toon dat Glock geen ernstige beserings opgedoen het nie.
'n Besluit sal vroeg Sondagoggend geneem word oor Glock se deelname aan die wedren. Howett het aangedui dat Toyota sou navraag doen om die moontlikheid om die reserwebestuurder Kamui Kobayashi te gebruik, al het hy nie aan die kwalifiserende ronde deelgeneem nie.
"Dis 'n bietjie van 'n grys area," het Howett gesê.
Die oorsaak van die ongeluk is steeds nie duidelik nie, maar Howett het gesê telemetrie-data het getoon dat daar geen probleem met die motor was wat tot die ongeluk kon lei nie.
"Uit ons oogpunt was daar niks fout met die motor nie," het Howett gesê. "Jy kan sien (op die beeldmateriaal) dat hy nie probeer het om die stuurwiel te draai nie."
- SAPA