Giniel tevrede ná tweede plek in Dakar
2011-01-17 08:18
Stellenbosch - Ná sowat 5000km se jaagtogte deur bosse, reuse-duine, donderstorms en slaggate, keer die tydrenjaer Giniel de Villiers tevrede terug na die Eikestad met ’n tweede plek in vanjaar se Dakar-tydren.
Sy spanmaat Nasser Al-Attiyah van Katar is as die kampioen in die motorafdeling gekroon toe dié uitmergelende tydren, wat die afgelope twee weke in Argentinië en Chili plaasgevind het, Saterdag klaargemaak het.
In die derde plek was nóg ’n spanmaat, die verdedigende kampioen Carlos Sainz van Spanje.
“Soos jy van die Dakar verwag, was dit ’n werklik moeilike tydren – lank en vermoeiend,” het De Villiers luidens ’n mediaverklaring van Volkswagen gesê.
“Ek en my navigeerder, Dirk von Zitzewitz (van Duitsland), is baie bly om vanjaar tweede klaar te maak ná verlede jaar se teleurstellende sewende plek toe ons weens elektriese probleme in die derde sneltrajek twee uur verloor het.”
Volgens De Villiers was dit deurgaans sy strategie om so hard as moontlik te jaag sonder om onnodig te waag.
“Die Dakar eis groot respek en ons is baie trots om die podium die derde keer in vyf jaar te haal,” het 2009 se wenner gesê.
“Baie geluk aan Nasser wat ’n briljante tydren gery het,” het hy sy spanmaat gelukgewens. Maar dit was so hittete of die Volkswagen-span se oorheersing is Vrydagoggend in die wiele gery.
De Villiers se trotse pa, Smittie, het gister vertel ’n vermeende dronkbestuurder het oor ’n rooi verkeerslig gery en teen die bussie met Volkswagen se hele span – op pad na die dag se wegspringplek – vasgery.
“Niemand het seergekry nie, maar hulle het groot geskrik,” het De Villiers sr. gesê.
Hy het vertel sy seun is verlig dat dié moordende tydren nou verby is.
“Hy sê dit is ’n verskriklike taai tydren.”
De Villiers sr. was ook vol lof vir die Durbanse veteraan Alfie Cox, wat ongeag verskeie probleme ’n 18de plek behaal het. De Villiers sr. het vertel Cox se Nissan-span het nie naastenby dieselfde begroting as die Volkswagen-, BMW- en Mitsubishi-spanne nie.
“Dit is werklik ’n groot prestasie,” het hy oor Cox gesê.
De Villiers word Maandag omstreeks 12:00 op die Kaapstadse Internasionale Lughawe verwag.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24