Giniel oefen in Namib-woestyn
2012-07-23 12:16
Windhoek – Die Suid-Afrikaanse tydrenjaer, Giniel de Villiers, wat derde in vanjaar se Dakar-tydren in Argentinië geëindig het, is saam met die Toyota-span besig om hul kragtige vuurwaens in die Namib-woestyn te toets, het die Republikein Maandag berig.
Dit is die tweede keer wat die twee Toyota-tydrenspanne Namibië besoek om hul voertuie te toets ná hulle verlede jaar in November hul motors vir die 2012 Dakar voorberei het.
“Ons toets alles en kyk veral na die vering. Hier het ons grondpad en sand bymekaar en alles is naby, dus kan ons die verskillende aspekte goed deurkyk,” het De Villiers gesê.
Die twee spanne bestaan uit De Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, en ook Duncan Vos en sy navigator, Rob Howie.
Vanjaar was Vos se eerste deelname aan die Dakar waar hy die tiende plek behaal het, maar hy was al vier keer as Suid-Afrika se tydrenkampioen op grondpad aangewys.
Lees die volledige berig hier.
– Republikein