Giniel in sy skik oor sy wenskof
2011-01-14 09:48
Stellenbosch - Die Stellenbosse renjaer Giniel de Villiers kon nie Donderdag voortbou op sy sege Woensdag in die tiende skof van die Dakar-tydren nie.
Hy was weer derde en is steeds in die derde algehele plek.
Sy Volkswagen-spanmaat Carlos Sainz van Spanje, wat tans tweede lê, was die wenner van die elfde skof. Nog ’n Volkswagen-man, die algehele voorloper Nasser Al-Attiyah van Katar, was tweede.
“Vandag (Woensdag) se uitslag wys jou hoe maklik dinge in die Dakar kan verander,” het ’n verheugde De Villiers luidens ’n verklaring van Volkswagen ná Woensdag se sneltrajek gesê.
“Ons het geweet die Fiambala – die gebied in Argentinië waardeur hulle gery het – is ’n bedrieglike sneltrajek, so ons het besluit om nie té hard te druk nie en net ’n goeie spoed te handhaaf, soos ons deurgaans in die tydren gedoen het.”
Intussen het Alfie Cox, die veteraan van Durban, Woensdag wéér probleme ondervind toe sy motor oorverhit het. Hy was gisteroggend in die algehele elfde plek.
Die moordende tydren het gister sy tweede slagoffer geëis toe ’n renjaer wat ver agter die res was in ’n motor vasgery het wat nie aan die wedren deelneem nie, berig Sapa-dpa.
Die jaer, Eduardo Amor van Argentinië, is in hegtenis geneem terwyl die voorval ondersoek word, het die nuusdiens DyN berig.
Amor het die organiseerders dadelik in kennis gestel van die ongeluk en hulle het ’n ambulans en helikopter gestuur om die bestuurder van die motor (48), ook ’n Argentyn, hospitaal toe te neem. Hy is in die hospitaal oorlede.
’n Elektrisiën is verlede week dood terwyl hy besig was om die kamp vir deelnemers voor te berei.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24