Geen hoop op wen meer vir Armstrong
2010-07-12 02:52
Morzine-Avoriaz, Frankryk - Die Amerikaner Lance Armstrong hoop nie meer op 'n agtste Tour de France-titel nie, ná twee ongelukke Sondag wat daartoe gelei het dat hy die agtste been amper 12 minute agter die eerste deelnemers geëindig het.
Die skof van 189 km in die Franse Alpe is deur Luxemburg se Andy Schleck gewen, met die Australiër Cadel Evans wat besit geneem het van die voorloper se geel trui.
Die eerste dag in die hoë berge was egter 'n ramp vir Armstrong, wat die Tour de France al sewe keer gewen het. Armstrong het die dag 11:45 agter Schleck geëindig.
Die Amerikaner het twee keer gedurende die skof geval, en het tydens die Col de la Ramaz, die eerste groot klim van die resies, begin tyd verloor. Hy is nou 39ste, 13:26 agter Evans.
"My Tour de France is verby," het Armstrong gesê. "Maar ek sal in die resies bly. Ek sal dit geniet, en probeer om 'n bietjie genot daaruit te put, om die span te ondersteun. Ek kla nie."
Die 38-jarige het net na die wegspring by Les Rousses geval, en toe 'n tweede keer kort voor die Col de la Ramaz.
"Ek het 'n slegte dag; 'n baie slegte dag gehad," het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP