Geen einde aan SA verspringer
2009-07-27 09:41
Pretoria- Khotso Mokoena is beslis Suid-Afrika se bestendigste atleet. Hy het dit Saterdag in Barcelona bewys toe hy die verspring met 8,29 m gewen het.
Brian Johnson van die VSA was tweede met ’n sprong van 8,09 m.
Dit is die soveelste keer vanjaar dat Mokoena verder as 8,25 m spring. Dit was verlede jaar sy persoonlike beste afstand.
Net Dwight Phillips van die VSA met 8,74 m en Irving Saladino van Panama (8,63 m) het vanjaar al verder gespring.
Mokoena se beste afstand is 8,50 m. Sy bestendigheid word duideliker as na die 20 beste afstande vanjaar gekyk word.
Phillips spog met ses van die beste afstande, Mokoena met vier en Saladino met twee.
As dié statistiek in ag geneem word, lyk dit asof Mokoena ’n baie goeie kans staan om ’n medalje op die Wêreldbyeenkoms in Berlyn te wen. Dit begin middel Augustus.
Hy het verlede jaar bewys hy word nie maklik op groot byeenkomste ontsenu nie toe hy die goue medalje op die binnenshuise Wêreldbyeenkoms gewen het en ’n silwermedalje op die Olimpiese Spele in Beijing.
Johan Cronjé is die ander Suid-Afrikaner wat die naweek goed vertoon het toe hy in Londen op die Aviva Super Grand Prix-byeenkoms die myl in ’n persoonlike beste tyd van 3 minute en 54.84 afgenael het.
Dis maar die tweede keer dat Cronjé die myl in minder as 4 minute nael en een van die beste vertonings tot nog toe deur ’n SA atleet. Die dubbelle wêreldkampioen, Bernard Lagat van die VSA, het in 3:52.71 gewen.
Peter van der Westhuizen het in Barcelona derde in die 1 500 m geëindig. Sy tyd was 3:37.83. Diego Ruiz Sanz (Spanje) het in 3:36.97 gewen.
LJ van Zyl was in Londen vierde in die 400-hekkies in 49.05 s.