Freitag is terug in atletiek
2009-12-21 21:10
Medewerker
Kaapstad. – Jacques Freitag is terug in atletiek.
Die voormalige hoogspring-wêreldkampioen het Vrydagaand op die vakansie-byeenkoms in Oudtshoorn maklik op ’n hoogte van 2,20 m geslaag en sodoende met die nasionale kampioen, Willem Voigt, afgereken.
Freitag, wat nog onlangs in die hospitaal was met masels, was ’n groot gunsteling by die toeskouers op dieselfde baan waar hy in Maart 2005 op ’n snikhete middag sy Afrika-rekord van 2,38 m gespring het.
Op die baan het die hoogtepunt tydens die laaste nommer van die aand gekom, toe Donnay Danster van Oudtshoorn ’n Suid-Afrikaanse o.18-rekord (5 minute en 43 sekondes) in die 2 000 m-hindernis opgestel het.
Danster se afrigter, Hans van der Veen, het op sy dag self die rekord gehou toe dit nog die 1 500 m-hindernis was.
Die Universiteit van Wes-Kaap se naellopers het weer beïndruk met Brent Stevens, Roscoe Engel en Sergio Mullins wat die mansnommers oorheers het, terwyl Bernice Roman in die 100 m ’n goeie oorwinning oor Mia Prinsloo van die Tukkies, ’n voormalige nasionale kampioen, behaal het.
In die diskusgooi het Victor Hogan van die Kovsies gewys dat hy reg is vir ’n goeie seisoen met sy wenafstand van 57,67 m.
Dit was egter die jong Daniel Maree van Wesbank wat die oë laat rek het, aangesien sy 49,08 m die beste tot nog toe is deur ’n o.15-atleet in Suid-Afrika.
Die byeenkoms is gekenmerk deur ’n goeie toeskouertal, deelname van vele top-atlete en die teenwoordigheid van verskeie administrateurs van oor die land. Dit was soortgelyk aan die byeenkomste verlede week in Stellenbosch en Parow.
As in ag geneem word dat hierdie byeenkomste sonder groot borge gereël word en atlete in die meeste gevalle hul onkoste moes dra, spreek dit van ’n vars bries in SA atletiek.
Daar word gepraat van ’n moontlike somerreeks van byeenkomste in die Wes- en Oos-Kaap, en daar word vertrou dat die sport op die drempel van ’n nuwe era staan.
- Die Burger