Franse Ope eis 6de gekeurde
2011-05-24 07:33
Parys. – Die Franse Ope het reeds op die tweede dag sy eerste groot opskudding gelewer.
Die sesde gekeurde, Tomas Berdych van die Republiek van Tsjeggië, is Maandag ná ’n marathon-tennisstryd hier op Roland Garros uitgeskakel.
Die Franse kwalifiseerder Stephane Robert het Berdych, wat verlede jaar in die halfeindronde gespeel het, met 3-6, 3-6, 6-2, 6-2, 9-7 geklop.
Boonop het Berdych in die laaste stel ’n wedstrydpunt op 5-4 gehad.
Robert, nr. 140 op die wêreldranglys, se teenstander in die tweede ronde sal Fabio Fognini van Italië wees.
Vroeër het die naasbeste speler ter wêreld sy aanslag op dié kleibaan-titel met ’n oortuigende oorwinning begin.
Of gluten-vrye pizza sy geheim is of nie, Novak Djokovic se peil in 2011 is soos ’n vars briesie vir manstennis.
Djokovic het Nederland se Thiemo de Bakker met 6-2, 6-1, 6-3 geklop vir sy 38ste sege agtereenvolgens dié jaar.
Die Serwiër se beste vertoning op Roland Garros is ’n plek in die halfeindronde in 2007 en 2008.
Djokovic is nie net op koers om Rafael Nadal as die voorste speler ter wêreld te onttroon nie, maar hy nader ook John McEnroe se rekord van 42 agtereenvolgende seges van die begin van ’n kalenderjaar af.
“Dit is my gunsteling-Grand Slam-toernooi, al het ek dit nog nooit gewen nie. Ek slaan goed af en is baie aggressief. Daar is altyd druk en ’n mens leer maar hoe om dit te hanteer. Ek weet die verwagtinge is hoog, maar ek is tans net baie gelukkig en tevrede,” het Djokovic gesê.
Oor sy nuwe gluten-vrye dieet wou hy nie veel sê nie. “Dit is privaat, so ek wil nie eintlik daaroor praat nie.
“Daar is gluten-vrye pizza, maar nie baie plekke maak dit nie.”
Die derde gekeurde, Roger Federer van Switserland, het ook tot die tweede ronde deurgedring ná sy sege van 6-3, 6-4, 7-6 oor die Spanjaard Feliciano Lopez.
Nadal en Federer oorheers die laaste paar jaar manstennis, maar die 24-jarige Djokovic, die Australiese Ope-kampioen, het dié situasie op sy kop gekeer.
Sedert 2005 het óf Nadal óf Federer dié Grand Slam-toernooi gewen.
Vir die eerste keer is nie Nadal of Federer die gunsteling om die trofee omhoog te lig nie.
Die verdedigende vrouekampioen, Francesca Schiavone, het gesê dit voel asof sy weer tuis is nadat sy die 19-jarige Amerikaner Melanie Oudin met 6-2, 6-0 afgeransel het.
Schiavone, vyfde gekeur, het verlede jaar die eerste Italiaanse vrou geword wat ’n Grand Slam-titel wen.
Suid-Afrika se Chani Scheepers is veilig deur na die tweede ronde nadat sy Viktoriya Kutusova van die Oekraïne met 6-3, 4-6, 6-2 geklop het.
Sy het verlede jaar die vierde ronde gehaal.
Vir die jongste sportnuuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Reuters