Franse Ope: Federer tel spoed op
2011-05-25 15:25
Parys - Die voormalige eerste gekeurde speler Roger Federer het sy opponent Woensdag in die tweede ronde van die Franse Ope, die Fransman Maxime Teixeira, op 'n drafstap met 6-3, 6-0 en 6-2 geklop.
Federer, die 2009-kampioen in Parys, speel volgende teen die 29ste gekeurde Serwiër Janko Tipsarevic wat Spanje se Pere Riba vir 'n plek in die laaste 16 geklop het.
Ander uitslae:
Die eerste gekeurde vrouespeler Caroline Wozniacki van Denemarke het die Kanadees Aleksandra Wozniak met 6-3, 7-6 op Roland Garros se Philippe Chatrier-baan geklop.
Die Deen speel volgende teen die 28ste gekeurde Daniela Hantuchova van Slowakye.
Samantha Stosur van Australië, wat verlede jaar in die eindronde van die Franse Ope teen die Italianer Francesca Schiavone verloor het, het gemaklik met 6-0, 6-2 teen die 19-jarige Simona Halep van Romenië gewen.
Sy kom volgende teen Gisela Dulko van Argentinië in die derde ronde te staan.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24