Ford onttrek aan WRC-tydrenreeks
2012-10-16 08:35
Berlyn – Die motorvervaardiger Ford gaan aan die einde van die jaar uit die WRC-tydrenreeks onttrek, het Ford Europa se adjunk-president, Roelant de Waard, Maandag aangekondig.
"Dit is beter vir die maatskappy en die Ford-handelsmerk om aan die WRC te onttrek," het De Waard op die Amerikaanse motorvervaardiger se Facebook-blad gesê.
Hy het bygevoeg dat die besluit, wat gemaak is weens ekonomiese redes nadat Ford-verkope in Europa vanjaar met 19% afgeneem het, nie 'n maklik was nie.
Ford sal egter voortgaan om die M-Sport-organisasie, sy vennoot in die WRC-kampioenskappe, van motors en enjins te voorsien.
Ford se Finse jaer Jari-Matti Latvala is tans derde op die jaers se punteleer agter die Fransman Sebastian Loeb, wat reeds as wêreldkampioen gekroon is.
Loeb het vroeër onthul dat hy aanstaande jaer net aan sekere wedrenne gaan deelneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP