Flintoff: 'Boksgeveg g'n slenter'
2012-11-27 12:32
Manchester – Die Engelse krieketheld Andrew Flintoff is op die agtervoet nog voor hy in die bokskryt kan klim vir sy eerste professionele geveg wat Vrydagaand in Manchester plaasvind.
Flintoff word verfilm as deel van 'n dokumentêre reeks – Flintoff: From Lord's to the Ring – wat 'n hoogtepunt bereik waar hy sy professionele debuut teen die Amerikaner Chad Dawson maak.
Die 34-jarige word die afgelope vyf maande deur Barry McGuigan, die 1985 wêreldkampioen in die veergewig-afdeling, en sy seun, Shane, afgerig.
Flintoff word egter daarvan beskuldig dat hy boks nie ernstig genoeg opneem nie en dat Vrydag se geveg slegs oor 'televisie' gaan en nie oor die sport self nie.
Die Britse promoter Frank Maloney het die boksowerhede ook gekritiseer oor hul besluit om 'n lisensie aan die oud-krieketspeler uit te reik.
Flintoff hou egter vol dat die besluit om 'n dokumentêre reeks te maak, nie sy enigste motivering is nie.
"Ek verstaan dat mense die sport wil beskerm, maar Vrydag gaan ek in die kryt staan en dit is waar al my energie gaan wees," het Flintoff gesê.
"Hulle moet my 'n kans gee. Met die geveg en die dokumentêr wil ek wys watter opofferings boksers moet maak."
Flintoff het twee jaar gelede sy uittrede uit krieket aangekondig ná 'n suksesvolle loopbaan, wat twee Reeks om die As-oorwinnings oor Australië in 2005 en 2009 insluit.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP