Fietsryer dood gevind ná opkikker-skandaal
2011-01-11 13:48
Madrid - Die voormalige Spaanse bergfietsryer Alberto Leon, wat by twee grootskaalse opkikker-skandale betrokke was, is Maandagaand dood in sy huis gevind, het polisiebronne gesê.
Aanvanklike bewyse toon dat die 37-jarige moontlik selfmoord kon gepleeg het.
Die El Pais-koerant het berig dat die Spanjaard homself glo by sy huis in San Lorenzo de El Escorial naby Madrid gehang het.
Leon is in 2006 by Operasie Puerto betrek, wat fietsryers, spanbeamptes en dokters in opkikker-skandale geïmpliseer het.
Bekendes fietsryers soos die Duitser, Jan Ulrich, is destyds uit sy span geskop terwyl Alejandro Valverde en Ivan Basso tydelik geskors is.
Tog het wetgewing in 2006 owerhede verhoed om Leon en ander verdagtes te straf.
Teen die einde van 2010 is Leon ook by Operasie Galgo saam met 13 ander mense betrek, insluitende die atleet Marta Dominguez.
Die 14 mense word daarvan verdink dat hulle by 'n sindikaat betrokke was wat verbode middels aan atlete verskaf het.
Leon, wat as een van Spanje se bergfietsbaanbrekers beskou word, is nooit verdink dat hy self verbode middels gebruik het nie.
Maar dat hy die middels vervoer het en bloedoortappings uitgevoer het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA