Ferrari wys nuwe F1-motor op internet
2012-02-03 13:06
Londen – Ferrari het sy 2012 F1-motor Vrydag op die internet onthul, nadat die amptelike bekendstelling in Maranello, Italië, afgestel moes word weens sneeu.
Die Italiaanse motorvervaardiger het 'n paar moeilike seisoene beleef sedert Kimi Raikkonen, wat vanjaar vir Lotus jaag, Ferrari se laaste wêreldtitel in 2007 gewen het.
Verlede jaar het Ferrari derde geëindig in die vervaardigersafdeling met die tweemalige wêreldkampioen Fernando Alonso vierde op die punteleer vir jaers en Felipe Massa sesde.
Massa, wat die F2012 as "aggresief" beskryf weens sy radikaal nuwe voorkoms, is gewaarsku dat hy vanjaar voet in die hoek moet sit.
Die Brasilianer se kontrak verstryk aan die einde van die 2012-seisoen.
"Wat Massa betref, hy weet net so goed soos ons dat hy iets ongeloofliks sal moet doen. Iets sal moet verbeter ná verlede jaar nie baie positief was nie," het Ferrari-president Luca di Montezemolo in 'n video-boodskap op Ferrari.com gesê.
Die eerste Grand Prix van die jaar skop af op 18 Maart in Australië.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Reuters