Ferrari van knoeiery beskuldig
2010-07-25 19:30
Hockenheim, Duitsland - Ferrari was Sondag in Duitsland in die spervuur ná Fernando Alonso se omstrede Formule Een-oorwinning in Duitsland.
Die Italiaanse span word daarvan beskuldig dat hulle Felipe Massa beveel het om stadiger te ry sodat Fernando Alonso die voortou kan neem en die Duitse Grand Prix wen.
Massa was voor Alonso tot Ferrari se spanbaas, Stefano Domenicali, hom beveel het om Alonso die voortou te laat neem.
Ferrari se plan om Alonso se kanse in die bestuurderskampioenskap te verbeter, verontagsaam die reëls wat opdragte van spanne verbied. Dié reëls is in 2002 ingestel.
Die FIA, F1-beheerlighaam, het in 2002 opgetree ná Ferrari vir Rubens Barrichello beveel het om stil te hou sodat Michael Schumacher die Grand Prix in Oostenryk kan wen.
Agt jaar later word Ferrari van dieselfde taktiek beskuldig.
Die voormalige F1-spanbaas Eddie Jordan het gesê dié voorval is onwettig.
"Hulle (Ferrari) het die kans van ons gesteel om 'n regte kompetisie tussen die jaers te sien. Ferrari moet hulle skaam. Dit was 'n spanorde. Vir my is dit knoeiery en dié twee motors moet uitgesluit word."
Alonso het nou 34 punte minder as die bestuurderskampioen, Lewis Hamilton.
Hamilton wat vierde geëindig het, staan op 157 punte.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- AFP