Federer waarsku Jong Turke
2011-06-29 08:38
Londen – Roger Federer het Novak Djokovic en Andy Murray gewaarsku dat dit ’n hengse aanslag gaan verg om hom of Rafael Nadal in die Wimbledonse tennistoernooi te klop.
Die Australiese Ope kampioen, Djokovic, speel indrukwekkende tennis en Murray se goeie spelpeil laat kenners vermoed dat hy Brittanje se gewag van 75 jaar vir ’n manskampioen hier kan beëindig.
Federer het sy visier op ’n sewende titel, terwyl Nadal die verdedigende kampioen is.
Nadal het in vier van die laaste vyf Wimbledonse eindstryde gespeel en Federer het net een eindstryd die afgelope agt jaar misgeloop.
Met dít in gedagte, glo Federer dis nog te vroeg om te sê dat Djokovic en Murray die nuwe fakkeldraers gaan wees.
“Ons sal maar moet wag en sien. Dalk speel Djokovic en Murray weer teen mekaar soos in die Australiese Ope en dan was ek verkeerd. Indien nie, was ek reg,” het die 29-jarige Switser gesê.
“Ek gee nie om of ek reg of verkeerd is nie.
“Ek weet hoe goed ek tans speel en dieselfde geld Rafa. Hy het gemik vir vier agtereenvolgende Grand Slam-titels in Melbourne en as hy verloor, word daar skielik gepraat oor ’n nuwe era wat aangebreek het.
“Ek sukkel om dié spronge van die een uiterste na die ander te verstaan.
“Ek wil eintlik nie eens oor dié goed praat nie.
“Ek wil net graag my mening op skrif stel.
“Mense kan soms maar taamlik belaglik raak oor dié soort dinge.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24