Federer uit Wimbledon geboender
2011-06-29 19:56
Londen – Frankryk se Jo-Wilfried Tsonga het ‘n geskiedkundige oorwinning oor Roger Federer behaal en sodoende tot Wimbledon se halfeindstryd deurgedring.
Dit was die Switserse ster Federer se eerste nederlaag óóit wanneer hy die eerste twee stelle gewen het.
Die sensasionele uitslag van 3-6, 6-7 (3/7), 6-4, 6-4, 6-4 in Tsonga se guns het Federer, wat die toernooi reeds ses keer gewen het, sy tweede agtereenvolgende uittog in die kwarteindronde by dié toernooi laat beleef.
Dit het ook die 29-jarige speler se vermoë om nog trofees by sy 16 Grand Slam-titels te voeg, in twyfel te trek. Sy vorige Grand Slam-titel was die 2010-Australiese Ope. ‘n Skadu is ook nou gewerp oor sy poging om Pete Sampras se rekord van sewe Wimbledon-titels te ewenaar.
Vir die 26-jarige Tsonga sal dit sy eerste Wimbledon-halfeindstryd wees. Hy kom teen die nommer 2-speler op die wêreldranglys, Novak Djokovic, te staan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA