Fantasties, sê LJ ná skittersege
2011-05-27 08:35
Pretoria - LJ van Zyl het Donderdagaand in Rome seker gemaak dat hy sy onoorwonne status in die 400-hekkies behou toe hy dié nommer op die Diamantliga-byeenkoms in ’n wêreldklas-tyd van 47.91sekondes gewen het.
Die wedloop was half ’n anti-klimaks, want Van Zyl het vir sy hoogaangeskrewe teenstanders weggehardloop.
Vyf van hulle was verlede jaar tussen die ses vinnigste atlete in die 400 hekkies, maar daar was vroeg reeds geen twyfel oor wie sou wen nie.
Dit was die derde keer vanjaar dat Van Zyl dié nommer in minder as 48 s afnael. Hy spog nou met al vier die vinnigste tye tot dusver vanjaar – 47.66, 47.71, 47.91 en 48.11.
Van Zyl het in ’n SMS-boodskap laat weet: “Dis fantasties. Ek kan dit self nie glo nie.”
Brittanje se David Greene was tweede in 48.24 en Angelo Taylor (VSA), tweemalige Olimpiese kampioen, derde in 48.66.
Hennie Kotzé, Van Zyl se afrigter, skryf Van Zyl se bestendige goeie vertonings aan harde werk toe.
“Ek voel partykeer skuldig dat ek LJ so hard druk. Daar was kere dat hy my gevra het of dit regtig nodig is dat hy so hard moet oefen, maar as ek aan hom verduidelik wat die doelwit is, byt LJ net vas en doen die harde werk.”
Kotzé het gisteraand na Europa gevlieg om Van Zyl by te staan vir sy volgende twee wedlope. Hy neem weer op 31 Mei in Ostrava deel en dan op 4 Junie in Eugene, VSA.
* Dit gaan ’n besige naweek vir Suid-Afrikaanse atlete wees.
Simon Magakwe, Suid-Afrikaanse 100-kampioen, en Tshamano Setone, Suid-Afrikaanse 5000-kampioen, neem Saterdag aan die Grand Prix-byeenkoms in Dakar, Senegal deel.
* Mapaseka Makhanya (1500m) en Lehann Fourie (110-hekkies) is Sondag op die Fanny Blankers-Koen Spele in Hengelo, Nederland in aksie.
Fourie, wat verlede jaar vir een van die Suid-Afrikaanse hoogtepunte gesorg het toe hy die 110-hekkies in 13.44 afgenael het, is die eerste om te erken dat sy vertonings in die plaaslike Geelbladsye-reeks nie regtig iets was om oor opgewonde te raak nie.
Sy beste tyd sover vanjaar is maar 13.71.
* Willem Coertzen, Suid-Afrikaanse tienkamp-kampioen, neem Saterdag en Sondag aan die Hypo-veelkampbyeenkoms in Götzis, Oostenryk deel.
Coertzen is oorgehaal om vir die Wêreld-atletiekbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea te probeer kwalifiseer. Kry hy dit reg, beteken dit dat hy ook sy Suid-Afrikaanse rekord sal verbeter.
Die kwalifiserende vereiste is 8200 punte, terwyl Coertzen se rekord 846 punte is.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24