F1-renjaer ernstig beseer in ongeluk
2011-02-06 14:42
Rome - Die Formule Een-renjaer Robert Kubica is Sondag ernstig in 'n ongeluk beseer toe hy onderweg was na die Ronde di Andorra-motorwedren in Liguria, Italië, het die Ansa-nuusagentskap berig.
Kubica, wat vanjaar vir Lotus Renault GP in die Formule Een-reeks jaag, was agter die wiel van 'n Skoda Fabia waarin hy aan die wedren sou deelneem, toe sy motor die pad verlaat en teen 'n muur gebots het.
Sy spanmaat Jacub Gerber het glo ongedeerd uit die wrak geklim. Kubica was volgens berigte by sy volle bewussyn toe nooddienste hom uit die wrak gehaal het.
Hy is met 'n helikopter na die Santa Corona-hospitaal naby Savona geneem waar vasgestel is dat die Pool verskeie frakture en inwendige beserings opgedoen het.
Kubica se toestand is ernstig en nuusberigte beweer verder dat hy moontlik 'n hand as gevolg van die ongeluk kan verloor.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP