Evans se Tour-triomf
2011-07-06 09:29
Pretoria – Cadel Evans (BMC) het Dinsdag ’n sielkundige oorwinning in die stryd om die Tour de France se geeltrui behaal toe hy Alberto Contador (Saxo Bank) met sentimeters in die vierde skof geklop het.
Dié skof van Lorient na Mûr de Bretagne (172.5 km) het met ’n steil klim van net meer as 2 km geëindig wat die Tour se gunstelinge die kans gegee het om mekaar die eerste keer te toets.
Contador, ’n driemalige Tour-kampioen, is desperaat om tyd op te maak nadat hy vroeg in die Tour geval het. Hy het vroeg teen die klim die eerste keer aangeval, maar wegkomkans was min want hy is ingehaal.
Dié Spanjaard het sowat 350 m van die einde weer versnel – en ’n kort rukkie ook voor gejaag, voordat Evans hom ingehaal en op die eindstreep verbygesteek het.
Evans het in 4 uur 11 minute en 39 sekondes gewen. Alexandre Vinokourov (Astana) het derde geëindig.
Thor Hushovd (Garmin-Cervelo) was die dag se ander groot held. Daar is vooraf gesê dat dié Noorweër, wat meer bekend is vir sy naelry-vernuf, nie eintlik ’n kans het om die geeltrui te behou nie. Maar hy het geweier om bes teen die klim te gee.
Hushovd het in die sesde plek, en in dieselfde tyd as Evans, oor die eindstreep gejaag. Dit was goed genoeg om sy voorsprong van ’n sekonde te behou.
Frank Schleck (Leopard-Trek) is nou derde, 4 sekondes agter.
Die kans is goed dat Hushovd die geeltrui tot Saterdag se agtste skof sal behou.
Evans het in ’n televisie-onderhoud gesê sy skofsege was ’n groot verrassing. “Sowat 15 km van die einde af, was ek in groot moeilikheid. My fiets het gebreek en ek moes stop om van fietse te verander. Op daardie oomblik het ek gedink my toer is verby en dat ek nie weer die voorlopers sou kon inhaal nie.
“Was dit nie vir my spanmaat Marcus Burghardt ... wat hom byna doodgewerk het, sou ek dit nie gemaak het nie.
“Wat my betref, is hy dié dag se groot held. Teen die klim het George Hincapie homself opgeoffer om te sorg dat ek in ’n gunstige posisie is.”
Volgens Evans pla dit hom nie dat hy nog nie die geeltrui dra nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24