Evans en George voor ná ‘komedie’
2011-10-18 09:00
Oudtshoorn – Kevin Evans en David George (360Life) het Maandag dalk in die eerste skof van die DCM Cape Pioneer Trek-bergfietstoer reeds hul teenstanders “planke toe gestuur” toe hulle in die skof van hier na Calitzdorp eerste oor die eindstreep gejaag het.
Die groot vraag is of enige van die jaers sterk genoeg is om saam met dié twee berg-op te jaag. Hulle het Maandag aan die voet van die eerste groot klim ’n aanval geloods en binne minute al die ander jaers laat stof vreet.
Christopher Sauser (Specialized), die Switserse wêreld-marathonkampioen, was die uitsondering, maar ongelukkig vir hom was hy en sy spanmaat, Max Knox (Ghost), die verdedigende kampioen, in hul eie komedie van foute betrokke.
Dit het alles begin terwyl Sauser besig was om skouer aan skouer saam met Evans en George berg-op te jaag.
Toe moes hy verneem dat Knox moes stop om ’n lekband reg te maak.
Sauser was genoodsaak om ook te stop en te wag. Om die tyd te verwyl, het hy sy sonbril afgehaal en begin skoonmaak. Terwyl hy daarmee besig was, het Knox verby hom gery sonder dat hy dit agtergekom het. Knox het hom ook nie gesien nie.
Die komedie het voortgeduur. Sauser het weer begin ry, maar ’n roete-aanwyser misgekyk. Dit het daartoe gelei dat hy onbewustelik kortpad gevat het. Toe hy steeds glad nie vir Knox kan opspoor nie, het hy uit pure moedeloosheid by ’n waterpunt gaan sit en wag.
Ná ’n hele paar minute het Sauser besef Knox wag dalk elders vir hom.
Hy het toe op die roete begin terugry. Knox het op ’n ander plek sit en wag.
Teen die tyd dat hulle as span herenig is, was hulle al maklik 15 minute agter Evans en George. Om sake te vererger, is Sauser ook deur ’n lekband tot stilstand gedwing. Dit het hulle nóg kosbare minute gekos.
Knox was agterna heel filosofies oor wat gebeur het.
“In verlede jaar se toer het ek nie een terugslag beleef nie. Dit is dalk nou maar net my beurt, want dit is hoe dinge in bergfietsry gebeur.”
Evans en George het die skof oor 107 km in 4 uur 12 minute en 20 sekondes gewen. Ben-Melt Swanepoel en Nico Bell (borgloos) was verrassend tweede in 4:18:05. Adrien Niyonshuti en Jacques Janse van Rensburg (MTN-Qhubeka) was derde in 4:18:54.
Neil MacDonald en Waylon Woolcock (RE:CM), wat die hele week in ’n stryd met ’n griepvirus gewikkel was, was vierde in 4:30:37 en Sauser en Knox vyfde in 4:39:59.
Evans en George het dit duidelik gemaak dat dié toer volgens hulle nog lank nie gewen is nie.
Hulle het verwys na wat vroeër vanjaar gedurende die Sani2C-toer gebeur het. Ná die eerste twee skofte het hulle ’n voorsprong van 10 minute gehad, maar op die derde dag het hulle verdwaal.
Dit het daartoe gelei dat hulle algeheel derde geëindig het.
“Niks is gewen nie totdat ons Saterdag oor die eindstreep gejaag het.
“Dit is net lekker om wel ’n sesminute-voorsprong te hê, veral as iets sou verkeerd gaan.”
Ischen Stopforth en Catherine Williamson (Bizhub) het die skof vir vroue in 4:55:05 gewen.
Erik en Ariane Kleynhans (Contego/Giant/Sludge) was die eerste gemengde span oor die eindstreep.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24