Ernie Els steun Woods se besluit
2009-12-15 10:50
Ernie Els, Suid-Afrikaanse gholfster, het gesê hy steun die Amerikaanse speler Tiger Woods se besluit om onbepaald met gholf op te hou om die skade te herstel wat sy ontrouheid sy persoonlike lewe berokken het.
“Ek het nog altyd gesê familie kom eerste. Ek dink hy het die regte besluit geneem,” het Els gesê.
Intussen word uit Wellington, Nieu-Seeland, berig Woods se gholfjoggie het gesê hy weet niks van dié topspeler se buite-egtelike verhoudings nie.
Dit het alles weg van gholftoere gebeur, het mnr. Steve Williams, ’n Nieu-Seelander, volgens die Nieu-Seelandse Sunday News gesê.
“Ek is ’n eerlike mens. Ek het niks geweet van wat aangaan nie.”
Williams het uitgevaar teen ’n bekende sportskrywer in die VSA wat gesê het hy moet afgedank word omdat dit moeilik is om te glo die verhoudings kon sonder sy “hulp of kennis” voortgegaan het.
“Wat mense nie besef nie, is dat ek net vir Tiger Woods werk. Ek woon in Nieu-Seeland, ek reis na en van Nieu-Seeland om vir Tiger Woods as joggie op te tree. Ek is nie 24/7 by hom nie.”
Woods, wat glo verhoudings met minstens tien vroue gehad het, het Vrydag erken hy het sy vrou, Elin Nordegren, verkul en aangekondig hy gaan onbepaald ophou met professionele gholf.
Intussen het die Sweedse horlosievervaardiger Tag Heuer, wat Woods al sedert 2002 borg, gister gesê hulle sal voortgaan met hul verbintenis met hom, ongeag sy beweerde ontrouheid.
Me. Mariam Sylla, die maatskappy se woordvoerder, het gesê Woods bly die wêreld se beste gholfspeler en Tag Heuer gee nie om oor sy private lewe nie.
Dit kom ’n dag nadat die internasionale konsultasiemaatskappy Accenture sy borgskap van Woods beëindig het.
Voorts het dit bekend geword dat Nordegren ’n nuwe spogwoonhuis op ’n eiland naby Stockholm in Swede gekoop het.
Sten-Aake Johansson, hoof van Faglaro-eiland se inwonersvereniging, het gesê sy is al sedert 1 Desember die eienaar van die woning.
Sy het nog nie openlik kommentaar op haar man se ontrouheid gelewer nie.
-Sapa-AFP