Eksieperfeksie in Epic
2012-04-02 07:59
Hermanus – Burry Stander en Christoph Sauser (36One-Songo-Specialized) het in die agt dae wat die Absa Cape Epic geduur het, perfeksionisme ten volle uitgeleef.
Die kans dat ’n bergfietsryspan weer ses van die Epic se agt skofte sal wen, elke dag op die wennerspodium staan, 27 minute voor hul naaste teenstanders eindig en nie een keer deur ’n lekband of meganiese probleme tot stilstand gedwing word nie, is uiters skraal.
Dit is presies wat die Suid-Afrikaner en Switser reggekry het.
Sauser spog nou met 26 Epic-skofseges, die meeste tot nog toe deur enige jaer. Stander is in die tweede plek met 20 seges.
Hul ses skofseges in dié toer is ook ’n rekord. Die vorige rekord was vyf wat hulle verlede jaar behaal het.
Sauser en Stander was nie van plan om Sondag se skof van Grabouw na die Lourensford-wynlandgoed (64km) in Somerset-Wes te wen nie.
Hulle wou hul spanmaats, Max Knox en Yamamoto Kohei, help om te wen, maar toe hulle ná die eerste 30 km alleen voor jaag, het hulle ná ’n vinnige spanpraatjie besluit om die skof te wen.
Hul wentyd was 2 uur 35 minute en 11 sekondes. Alban Lakata en Robert Mennen (Topeak Ergon) het Knox en Kohei in die naelrit om die tweede plek geklop.
Volgens Stander was dit groot verligting om oor die eindstreep te jaag.
“Dit is lekker om skofte te wen, maar tot Sondag kon ons nooit regtig ontspan nie, want jy dink aan die volgende skof wat voorlê.
“Ons kan nou die eerste keer ontspan en ’n bietjie feesvier.”
Nie dat Stander en Sauser veel tyd het om te ontspan nie. Hulle vlieg vandag Europa toe waar hulle gaan voorberei vir die volgende Wêreldbeker-byeenkoms wat oor twee weke in België plaasvind.
Dit maak deel uit van hul voorbereiding vir die Olimpiese Spele in Londen.
Sauser het benadruk dat hy en Stander so gou moontlik van hul Epic-sege moet vergeet.
“Jy is net so goed soos jou laaste ren.”
Die Epic se ander groot storie is Kevin Evans en David George (Nedbank360Life) se terugvegpoging.
Hulle het in twee van die agt skofte erge meganiese probleme ondervind, maar dié twee het geweier om bes te gee, en met hul skofsege Saterdag hul algehele tweede plek verseker.
Hannes Genze en Andreas Kugler (Multivan Merida) was algeheel derde.
Erik en Ariane Kleinhans (Contego 28E) het die Epic se gemengde afdeling gewen en Sally Bigham en Esther Süss (Wheels4Life) die vroue-afdeling.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24