'Ek is gevra om geveg te verloor' – Botha
2013-02-13 08:47
Brisbane – Die Suid-Afrikaanse bokser Francois Botha beweer nou dat hy $155 000 (sowat R1,3 miljoen) aangebied is om sy boksgeveg teen die Nieu-Seelandse rugbyster Sonny Bill Williams te verloor.
Williams het met 'n puntebeslissing verlede Vrydag in Brisbane gewen. Die geveg is egter oorskadu deur onbevestigde berigte dat Botha positief getoets het vir verbode middels.
Die 44-jarige Suid-Afrikaner voer nou aan dat Williams se bestuurder, Khoder Nasser, hom geld aangebied het in 'n park in Brisbane, drie dae voor die geveg.
Hy beweer Nasser het in 'n telefoonoproep gevra om hom alleen te ontmoet.
"Ek is nie gesê waarheen ons gaan nie. Toe ons by 'n park kom is my selfoon afgevat en aan 'n ou in 'n motor gegee," het Botha in 'n telefoniese onderhoud Woensdag vanuit Durban aan Nieu-Seeland se Radio LiveSport gesê.
"Ek en Nasser het 'n ent gaan stap en dit is toe dat ek $155 000 aangebied is om die geveg te verloor."
"Ek het net gesê: 'Nee, ek kan dit nie doen nie'," het Botha verduidelik.
Daar was geen voorstel dat Williams van die beweerde aanbod bewus was nie.
Nasser het woedend gereageer en Botha as 'n slegte verloorder uitgekryt ná die geveg oor tien rondes beslis is ten spyte daarvan dat dit vroeër as 'n 12 ronde-geveg beskryf is.
"Ek dink [Botha] is steeds in 'n waas," het Nasser aan Fairfax Media gesê.
"Hierdie is dieselfde ou wat gesê het hy het nie geweet dat die geveg net tien rondes is nie. Toe kom hy en sy promotor later en sê dit was wel tien rondes."
"Daarna sê hy geen opkikkertoets is gedoen nie en toe sê hy weer hy is wel getoets. Wat is volgende?"
"Hy moet aanvaar dat hy deur 'n ou geklop is wat slegs vyf gevegte agter sy naam het."
"Dit is alles goed en wel om bewerings rond te slinger, maar waar is sy trots as man? Dit is absolute malligheid," het Nasser gesê.
Lees verder.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP