Duurste tugsaak in SA sportgeskiedenis
2011-11-04 09:00
Pretoria. – Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) se hantering van die tugverhoor van Molatelo Malehopo, Atletiek Suid-Afrika (ASA) se geskorste hoofbestuurder, is besig om ’n verleentheid te raak.
Oor twee weke sal dit presies twee jaar wees dat Malehopo geskors is en steeds duur die saak voort. Dit is waarskynlik die langste en die duurste tugverhoor tot nog toe in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis.
James Evans, voorsitter van ASA, sê Saskok se gesloer beteken dat Malehopo reeds byna R2 miljoen betaal is sonder dat hy ’n dag se werk gedoen het.
Saskok speel glo nie oop kaarte met ASA oor waarom dié saak so lank sloer nie. Volgens Evans is hy die paar keer dat hy navraag gedoen het ingelig dat Malehopo nie opdaag op die dae dat sy verhoor moet plaasvind nie of glo siek is.
Evans, wat ’n gekwalifiseerde advokaat is, sê hy vind dit onaanvaarbaar.
“As dié saak in die arbeidshof aangehoor is, sou dit al lankal afgehandel gewees het.
“Ons het die pos van uitvoerende hoof al ’n geruime tyd gelede geadverteer, maar ons kan geen aanstelling maak voordat Malehopo se tugverhoor nie afgehandel is nie.”
Arnaud Malherbe, wat deur Saskok as ASA-raadslid geskors is omdat hy in 2009 voor die Wêreld-atletiekbyeenkoms in Berlyn op sy blog geskryf het dat Caster Semenya ’n hermafrodiet is, se tugverhoor duur ook al byna agt maande.
Daar word aangevoer dat die wêreldwye verleentheid wat Semenya moes deurgaan, vermy kon gewees het as Malherbe nie die aantyging op die webwerf gemaak het nie.
Malherbe het sy volle samewerking aan Saskok gegee. Hy het onder meer op ’n mindere klag skuldig gepleit en vir Semenya om verskoning gevra. Dit was nie vir Saskok aanvaarbaar nie. Daar is besluit om met die verhoor voort te gaan. Malherbe se regskoste beloop ’n aansienlike bedrag.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24