Duitse duo veg terug
2011-03-30 07:21
Tulbagh - Die verdedigende kampioene, Karl Platt en Stefan Sahm, is terug op die wennerspodium van die Absa Cape Epic.
Dié twee Duitsers het Dinsdag vierde in die tweede skof hier oor 104 km geëindig en is nou derde algeheel. Dit volg nadat hulle die derde dag van die agtdaagse bergfietstoer in die vyfde plek begin het.
Tog is hulle steeds meer as 7 minute agter die algehele voorlopers én die wenners van die tweede skof, Burry Stander en Christoph Sauser (36ONE-SONGO-SPECIALIZED).
Suid-Afrika se Stander en Sauser van Switserland het die skof in 4 uur, 32 minute en 43 sekondes gewen. Nóg ’n Duitse duo, Hannes Genze en Jochen Kaess, is algeheel tweede. Hulle is 6 minute en 18 sekondes agter Sauser-hulle. Dit was Sauser se 18de skofsege en Stander se 12de.
“Ek is tevrede met die skofsege, maar die heel belangrikste is dat ons ons voorsprong gerek het,” het Sauser gesê.
Nie Sauser of Stander wil nou al oor die moontlikheid van ’n algehele oorwinning begin praat nie, want hulle weet presies hoe vinnig sake in die Epic kan verander.
“Dit sal ’n groot eer en voorreg wees om die Epic te wen as die eerste Suid-Afrikaner. Ek dink dit gaan vir die Suid-Afrikaanse publiek meer beteken as wat ’n oorwinning op die Wêreldbyeenkoms sal wees,” het Stander gesê.
“Die publiek soek ’n wenner in die Epic. Tot dusver verloop dinge grotendeels reg vir ons, maar nou moet ons net hoop dit gaan so voort.”
Die groot verwikkeling van die dag was dat die driemalige wenners van die Epic, Platt en Sahm, weer binne trefafstand van die voorlopers is.
Maandag was nie ’n goeie dag vir die Duitse Bulls-spanmaats nie, maar gister het hulle weer soos die kombinasie van ouds gelyk.
Dié wat hulle reeds afgeskryf het, sal nou twee keer moet dink.
Suid-Afrika se Kevin Evans, wat eergister ’n sleutelbeen gebreek het, is toe wel geopereer.
Sy spanmaat, David George (360Life), is nou die draer van die Outkast-trui. Dié wit trui word gedra deur die eerste beroepsjaer wat sy spanmaat verloor het.
Die teleurstelling lê nog vlak vir dié twee Suid-Afrikaners wat hul oog op die boonste trappie van die wennerspodium gehad het.
Vandag se derde skof is van hier tot in Worcester en is 125 km lank. Dit is die tweede langste skof in dié Epic.
Die langste skof is Vrydag, wanneer die ryers 143 km van Worcester na Oak Valley moet aflê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24