Dronkaards ontwrig atlete
2009-10-03 16:02
Johannesburg- ‘n Groep “dronk” individue is glo te blameer vir die feit dat die atlete se vergadering Saterdag in Pretoria, afgestel is.
Die naelloper, Geraldine Pillay, wat die vergadering saamgeroep het, sê sy vermoed dat Atletiek Suid-Afrika (ASA) ‘n rol gespeel het in die ontwrigting van die verrigtinge.
“Ons kon geen van die probleme oplos nie omdat ‘n groep dronkaards opgedaag het,” het Pillay gesê.
“Ons het wel goeie terugvoer van die atlete gekry en sal hierdie saak verseker verder neem. Ons sal weer ‘n vergadering hou.”
Die persone wat die vergadering ontwrig het is nie atlete of oud-atlete nie. Volgens Pillay word daar vermoed dat ASA die persone gestuur het.
“Die vergadering was nie spesifiek oor Chuene of Semenya nie. Dit was eerder ‘n kykie na wat op die oomblik in atletiek in Suid-Afrika gebeur.”
Hendrick Mokganyetsi, 'n raadslid van ASA, het die gerugte ontken.
–Sapa