Driekuns wink vir Contador
2010-07-23 09:07
Pretoria - Alberto Contador (Astana) het Donderdag feitlik verseker dat hy die Tour de France ’n derde keer gaan wen, toe hy skouer aan skouer met Andy Schleck (Saxo Bank) tot aan die bopunt van die gevreesde Col du Tourmalet-klim gejaag het.
Die enigste manier waarop die Spanjaard die Tour nog kan verloor, is as hy in een van die oorblywende drie skofte erge teëspoed ondervind of as Schleck met ’n bomenslike poging in môre se individuele tydtoets vorendag kom.
Schleck was beslis gister se groot held.
Hy het dan ook uiters welverdiend die 17de skof van Pau na die Du Tourmalet (174 km) in 5 uur 3 minute en 29 sekondes gewen.
Contador was tweede en Joaquin Rodriguez (Katusha) derde.
Contador verdien ’n pluimpie.
Die versoeking moes vir hom groot gewees het om vir Schleck in die laaste paar 100 meter te probeer wegjaag, maar hy het nie.
Meters van die lyn kon daar gesien word hoe Contador effens spoed verminder om te verseker dat Schleck die skof wen.
Dit was waarskynlik die tweemalige Tour-wenner se manier om Schleck om verskoning te vra vir die aanval wat hy Maandag geloods het toe Schleck se fietsketting afgeval het.
Dié aanval het Contador instaat gestel om die algehele voorloper te word Contador loop nou die gevaar om maar die sewende jaer te word wat die Tour wen sonder om ’n skofsege te behaal.
Daar sal beslis nog lank gepraat word oor Contador en Schleck se “geveg” teen die hange van die Col du Tourmalet.
Schleck het sowat 9.9 km van die eindpunt af aangeval.
Soos verwag, kon net Contador by hom bly.
Die druk was op Schleck om vir Contador weg te ry en tyd op te maak voor die individuele tydtoets.
Hoewel Schleck duidelik die sterkste jaer was en ’n paar aanvalle geloods het, kon hy nie vir Contador afskud nie.
Schleck maak geen geheim daarvan nie dat hy end-uit vir die geeltrui gaan baklei.
“Wat my betref, is die Tour nog nie gewen of verloor nie.
Verlede jaar dié tyd het Alberto ’n 4 minute-voorsprong gehad, nou is dit maar net ’n skamele 8 sekondes.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24