Drie netbalsterre van SA toer nie
2011-10-05 08:46
Johannesburg – Die Proteas-netbalspan sal die eerste uitdaging van sy opbouproses na die volgende Wêreldbeker-toernooi sonder drie groot staatmakers aanpak, maar het steeds ’n indrukwekkende groep spelers gekies vir Suid-Afrika se toer na Australië later in Oktober.
Suid-Afrika durf Malawi op 23 Oktober in ’n voorwedstryd vir ’n toets tussen Australië en Nieu-Seeland aan. Voor dit sal hy ook in ’n toets teen Nieu-Seeland se Silver Ferns speel.
Die Proteas se kaptein, Amanda Mynhardt, het herstel van die besering in Julie. Sy betree nou ’n nuwe fase van haar loopbaan, nadat haar jare lange mede-verdediger, Leigh-Ann Zackey, besluit het om uit te tree.
Zackey (29) was vir jare saam met Mynhardt die spil waarom Suid-Afrika én Noord-Gauteng se verdediging onder die doelpaal gedraai het. Die SA afrigter, Elize Kotzé, het haar uittrede as ’n groot verlies bestempel.
“Ek is baie hartseer oor haar uittrede. Leigh-Ann het ’n wonderlike aanvoeling vir die fyner dinge in internasionale netbal.”
Haar plek sal in Australië vol gestaan word deur die Vrystater Adele Niemand, wat SA in 2007 in die WB-toernooi verteenwoordig het en haar plek verdien het met ’n rits uitstekende vertonings in die NGC-reeks.
Zackey se plek kan ook ingeneem word deur Vanes-Mari du Toit, maar sy kan ewe maklik as doelskieter diens doen. Dis ’n posisie wat van groot belang kan wees omdat Claudia Basson én Maryka Holtzhausen weens werk- en studieverpligtinge nie vir die toer beskikbaar was nie.
Die SA groep is: Amanda Mynhardt (k), Zanele Mdodana, Chrisna Bootha, Erin Burger, Zukelwa Cwaba, Vanes-Mari du Toit, Tsakane Mbewe, Karla Mostert, Bongiwe Msomi, Adele Niemand, Anja Opperman, Nokuthula Qegu.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24