Donker wolk treiter SA Ope
2011-02-08 09:11
Johannesburg - Suid-Afrika het in Kevin Anderson die eerste keer sedert die gloriedae
van Wayne Ferreira weer ’n tennisspeler wat hom tussen die bestes ter
wêreld kan tuismaak.
Anderson se verowering van die
Suid-Afrikaanse Ope-titel eergister is egter nie sonder ’n tikkie ironie
nie, want dié begaafde 24-jarige sal waarskynlik nie aanstaande jaar
die geleentheid kry om sy titel te verdedig nie.
Hy het die
eerste Suid-Afrikaner in 21 jaar geword wie se naam op die trofee
gegraveer staan nadat hy die Indiër Somdev Devvarman met 4-6, 6-3, 6-2
hier by Montecasino geklop het.
Terwyl sy eerste ATP-toernooisege
(Vereniging van Beroepstennisspelers) hom ook die eerste keer in sy
loopbaan tussen die voorste 50 spelers ter wêreld laat inskuif het
(40ste), hang ’n wolk van onsekerheid oor die toekoms van die SA Ope.
Ian
Smith, die uitvoerende hoof van Tennis Suid-Afrika (TSA), het agt
maande tyd om die ATP te verseker dat hy ’n bedrag van R105 miljoen kan
waarborg vir die voortbestaan van die toernooi.
Dit is gewis dat
die toernooi nie weer aanstaande jaar hierdie tyd sal plaasvind nie,
maar daar is steeds ’n skrale hoop dat dit na later in die jaar geskuif
kan word.
Daarvoor sal egter ’n sterk borg gevind moet word, asook ’n geskikte datum op die reeds oorvol ATP-kalender.
Die
spelers wat hier deelgeneem het, is dit deur die bank eens dat die
toernooi net té goed is om sommer van die toneel te verdwyn.
“Ek
sê dit nie sommer net nie, maar hierdie is gewis een van die
bes-georganiseerde toernooie enige plek ter wêreld,” het Devvarman ná
die eindstryd gesê.
“Dit sal ’n groot jammerte wees as dit nie
weer plaasvind nie. Ons as spelers is mal daaroor om Afrika toe te kom
en die kultuur hier te ervaar en die wild te sien wat ons nêrens anders
kan nie.
“Ek glo die tenniswêreld is dit aan Afrika verskuldig om hierdie toernooi in Suid-Afrika te laat voortleef.”
Met
Anderson, ’n tennis-hemelbesem met ’n lengte van 2.02 m – ewe lank as
die Bulls- en Springbok-slot Bakkies Botha – aan die spits, kan
Suid-Afrikaanse tennis ook ’n bloeitydperk beleef.
Hy het gewys sy oorwinning oor Novak Djokovic in 2008 was geen vloekskoot nie.
“Ek begin ál meer in my eie vermoë glo.
“Jy
vertrou jou eie spel en ek het nou ’n atmosfeer in my kop geskep waar
ek weet waartoe ek in staat is en dat ek met die bestes kan saampraat,”
vertel Anderson.
Hy het sy eerste toernooisege aan sy ouers, Michael en Barbara, opgedra.
“Dit is vir al die opofferings wat hulle oor die jare heen moes maak sodat ek my droom kon uitleef.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24