Djokovic troef futlose Skot
2011-01-31 07:27
Melbourne. – Novak Djokovic van Serwië het Sondag die tweede Grand Slam-titel van sy loopbaan verower toe hy die Skot Andy Murray in skoon stelle in die eindstryd van die Australiese Ope-tennistoernooi verslaan het.
Die telling van 6-4, 6-2, 6-3 het duidelik gewys dat Murray, wat Brittanje se hoop vir ’n eerste manlike Grand Slam-toernooisege in 75 jaar op sy skouers gedra het, nie genoeg skietgoed vir die vasbeslote Djokovic gehad het nie.
Djokovic het koning gekraai in ’n toernooi wat ’n hele paar skokke opgelewer het.
Dit was die eerste Grand Slam-eindstryd in drie jaar waarin nie een van die sport se huidige reuse, Rafael Nadal en Roger Federer, gespeel het nie.
Die eerste paar punte van die eerste stel het weliswaar naelbytaksie verseker, met die 23-jarige Murray wat vroeg in die wedstryd gelyk het of hy dalk sy eerste Grand Slam-titel kan wen.
Murray se weerstand het egter vroeg verkrummel en die Skotse speler het boonop gans te veel ongedwonge foute begaan.
Dit het Djokovic amper ’n uur gekos om die eerste stel te beklink, maar Murray het daarna ál minder weerstand gebied.
Murray het in die laaste stel met hernieude ywer begin, maar selfs dít was van korte duur. Hy was ooglopend sonder veel energie of inspirasie en het aangehou om ongedwonge foute te begaan.
Djokovic, wat ook in 2008 dié titel gewen het, was agterna nederig oor sy oorwinning.
“Dit was ’n fantastiese toernooi vir my, maar ek wil nie nou grootkop kry en sê ek is die beste nie, want ek kan my nog nie met Rafa (Nadal) en Roger (Federer) vergelyk nie,” het hy gesê.
Murray, wat gister die derde keer in ’n Grand Slam-eindstryd die aftog moes blaas, was vol lof vir sy teenstander.
“’n Mens moet maar altyd ’n manier soek om weer by die agterdeur in te glip in ’n wedstryd, maar Novak het ongelooflik goed gespeel. Ek kon nie ’n goeie spelpeil handhaaf nie.”
In Saterdag se vroue-eindstryd het die Belg Kim Clijsters met 3-6, 6-3, 6-3 oor Li Na van China geseëvier.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24
- Sapa - AFP