Djokovic kraai koning
2011-07-03 18:57
Londen – Novak Djokovic het Sondag sy eerste Wimbledon-titel ingepalm deur verlede jaar se kampioen, Rafael Nadal, met 6-4, 6-1, 1-6, 6-3 te klop in die eindstryd en sy inhuldiging as die nuwe nr. 1-speler in die wêreld in styl te vier.
Dit is die 24-jarige Serwiër se derde Grand Slam-titel. Hy het in 2008 en 2011 by die Australiese Ope koning gekraai.
Djokovic, wat Nadal as die nr. 1-speler ter wêreld sal opvolg, het ook dié Spanjaard ‘n derde Wimbledon-oorwinning en 11de Grand Slam-titel ontsê.
Djokovic het voor die eindstryd ‘n rekord van 11 oorwinnings en 16 nederlae teen Nadal oor vyf jaar gehad, maar het al vier hul wedstryde in 2011 gewen.
“Dit is die beste dag van my lewe – hierdie is die toernooi waarvan ek altyd gedroom het om te wen,” het Djokovic ná die wedstryd gesê.
“Wanneer jy teen die beste speler ter wêreld – Rafa Nadal – speel, moet jy op jou beste wees en ek dink ek het my beste wedstryd op gras gespeel.”
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- AFP