Dit gons oor SA fietsryer
2010-08-17 08:46
Pretoria - Bernard Esterhuizen het Sondag op die Junior Wêreld-baanbyeenkoms in Italië die eerste Suid-Afrikaanse fietsryer sedert hertoelating in 1992 geword wat ’n goue medalje wen.
Esterhuizen het die 1 km-tydtoets in 1 minuut en 3.265 sekondes gewen. Sy wentyd is ’n Suid-Afrikaanse junior rekord.
Dié vertoning het voormalige baanfietsryers aan die praat.
“Ek het gedink ek is goed toe ek ’n vyfde plek op die baan in 1996 se Olimpiese Spele in Atlanta losgejaag het, maar Bernard se vertoning is beter,” het JP van Zyl Maandag vanuit Zambië gesê.
Esterhuizen het vir amper ’n jaar by die Internasionale Fietsryvereniging (UCI) se Opleidingsakademie in Lausanne, Switserland, geoefen.
Volgens Van Zyl was hy voor die Junior Wêreldbyeenkoms effens bekommerd oor hoe Esterhuizen sou vaar.
“As jy so jonk soos hy is, is dit hard om so lank weg van die huis af te wees. Jy raak regtig eensaam in Europa, vra my, ek weet.
“Bernard het op die Wêreldbyeenkoms bewys dat hy ’n sterk kop het en gefokus kan bly, al raak dinge moeilik.”
Van Zyl sê dit is belangrik vir Suid-Afrikaanse fietsry dat Esterhuizen ten minste tot die Olimpiese Spele van 2012 in Londen in Switserland bly oefen.
“Ek twyfel nie dat hy vir Suid-Afrika ’n medalje in Londen kan wen nie.”
Esterhuizen het ook vierde in die keirin-eindronde en sesde in die naelry-eindronde geëindig.
* Chad le Clos is ná die tweede dag van die Olimpiese Jeugspele in Singapoer Suid-Afrika se groot held nadat hy Maandag die 200 m- individuele wisselslag in 2 minute 00.68 sekondes gewen het.
Hy het Sondag ook ’n silwermedalje in die 400-vryslag gewen en is Dinsdag in die eindronde van die 100-vlinderslag in aksie.
Dylan Bosch het Suid-Afrika se derde medalje gewen deur derde in 2:02.59 in die 200-individuele wisselslag te eindig.
- Sport24