Dís Tour-organiseerders se grootste wens
2011-07-01 09:26
Kaapstad – Gesoek: ’n Tour de France-kampioen wat regtig die gebruik van verbode middels afkeur.
Dít is waarskynlik tans die grootste wens van die Tour-organiseerders en almal wat ’n ware passie vir fietsry het, want dié sport is as’t ware met sy rug teen die muur.
Die Tour se geskiedenis is sedert 1996 sinoniem met dwelmmisbruik.
Bjarne Rijs (1996-kampioen), Jan Ullrich (1997-kampioen), Marco Pantani (1998-kampioen) en Floyd Landis, die kampioen in 2006, het almal verbode middels gebruik.
Selfs die getrouste Lance Armstrong-ondersteuners kan vergewe word as hulle deesdae nie kan help om te wonder oor hoe “skoon” hul held regtig was terwyl hy die Tour van 1999 tot 2005 so oorheers het nie.
Daar doen net te veel gerugte die ronde.
Carlos Sastre (2008-kampioen) blyk die enigste “skoon” Tour-kampioen die laaste tyd te wees.
Die groot bespreking voor die Tour Saterdag begin, is of dit reg is dat Alberto Contador, ’n driemalige Tour de France-wenner, toegelaat word om saam te trap.
Hy het in verlede jaar se Tour op die laaste rusdag positief vir Clenbuterol getoets.
Die Spaanse Fietsryfederasie het beslis hy is onskuldig, maar die Internasionale Fietsryvereniging (UCI) en die wêreldliggaam teen dwelmmisbruik (Wada) het dié saak na die arbitrasiehof vir sport verwys.
Daar is gehoop dat die hof ’n uitspraak sou lewer voor die Tour môre begin, maar dit het nie gebeur nie.
Contador gaan eers van 1 tot 3 Augustus verhoor word. Dit is ’n week nadat die Tour klaargemaak het.
Volgens die UCI het Contador die reg om te bly deelneem totdat die verhoor afgehandel is. Vir hulle is dit ’n geval van onskuldig tot hy skuldig bevind is.
Bradley Wiggins (Sky), een van die Tour-gunstelinge, het in ’n onderhoud met Sapa-APgesê hy is nie seker of dit reg is dat Contador toegelaat word om deel te neem nie. “Contador se deelname is nie regverdig teenoor die jaers wat regtig moeite doen om ‘skoon’ te bly nie.”
Dit sal ’n verrassing wees as Contador nie die Tour wen wat môre in Passage du Gois begin en op 24 Julie in Parys se Champs-Élysées eindig nie.
Daar is nie ’n jaer wat vir Contador teen ’n steil bergpas kan wegry nie. Die Spanjaard is ook ’n bogemiddelde tydtoets-ryer. Van die sewe toere (Tour de France, Giro d’Italia en Vuelta Espana) waaraan hy sedert 2007 deelgeneem het, het Contador ses gewen. Hy is een van maar vyf fietsryers wat al drie die groot toere gewen het.
Contador sal verdere fietsry-geskiedenis maak as hy wen, want nog net agt jaers het al die Giro’Italia en die Tour in dieselfde jaar gewen. Marco Pantani (Italië), in 1998, is die laaste ryer wat dit reggekry het.
Andy Schleck (Luxemburg) is waarskynlik die enigste jaer wat ’n realistiese kans het om Contador te klop.
Geen Suid-Afrikaanse jaer neem vanjaar deel nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24