Deur klap toe vir SA Ope
2011-05-05 11:54
Johannesburg - Tennis in Suid-Afrika het 'n reuse terugslag beleef met die aankondiging dat die SA Ope nie op aanstaande jaar se ATP-kalender sal wees nie.
Dié nuus is Woensdag deur die uitvoerende hoof van Tennis Suid-Afrika (TSA), Ian Smith, bevestig na onderhandelinge met die ATP geen deurbraak kon lewer nie.
"Niks het van die onderhandelinge gekom nie. Ons sal dus moet aanvaar dat die SA Ope nie op die 2012-kalender sal wees nie," het Smith gesê.
Smith het gesê die ATP het simpatie vir TSA oor sy dilemma, maar bygevoeg dat simpatie alleen nie die situasie gaan help nie.
'n Bedrag van R105 miljoen was benodig om die voortbestaan van die toernooi te waarborg.
Tennis Suid-Afrika sal nou meer fokus op die Davisbeker asook om 'n plek in die elite wêreldgroep te herwin, na 'n afwesigheid van langer as 'n dekade.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24