Davisbeker: Kroasië kom na SA
2011-07-13 21:03
Johannesburg – Suid-Afrika is Woensdag in die Davisbeker-trekking aangewys om gasheer te speel vir Kroasië in hul wêreldgroep-uitspeelwedstryde van 16 tot 18 September.
Die sperdatum vir die keuse oor waar dié wedstryde gespeel sal word, is 2 Augustus.
Suid-Afrika is nie gekeur in die trekking nie, terwyl Kroasië een van die agt gekeurde nasies is.
Kroasië, wat spelers soos Ivan Ljubicic, Marin Cilic en Ivan Dodig in hul geledere het, sal maklik die gunstelinge vir dié wedstryde wees.
Ljubicic beklee die 31ste plek op die ATP-ranglys, terwyl Cilic net een plek agter hom is. Dodig is 42ste op die ranglys.
Suid-Afrika se Kevin Anderson, wat al drie sy wedstryde in die onlangse Euro-Afrika-kwalifiserende ronde teen Nederland in Potchefstroom gewen het, is die enigste speler in die Suid-Afrikaanse span in die top-100 van die ATP-lys. Hy beklee die 35ste plek.
Izak van der Merwe en Rik de Voest is onderskeidelik 123ste en 130ste op die ranglys, terwyl die dubbels-spesialis Wesley Moodie die 36ste plek op die dubbels-ranglys beklee.
John-Laffnie de Jager, kaptein, sal moet besluit oor waar die wedstryde gespeel sal word en sal bes moontlik ‘n ligging wat hoog bo seevlak – wat die Suid-Afrikaanse span beter sal pas – kies.
Kroasië en Suid-Afrika het nog nooit teen mekaar in Davisbeker-tennis gespeel nie.
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA