Daryl Impey seëvier in SA tydtoets
2011-02-04 09:14
Pretoria - Daryl Impey (MTN-Qhubeka) is die nuwe Suid-Afrikaanse individuele tydtoetskampioen nadat hy die 40 km Donderdag in Port Elizabeth in 52 minute en 1 sekonde afgejaag het.
Impey is vinnig besig om een van die suksesvolste medaljevrate van dié nasionale padbyeenkoms te word. In 2003 het hy die Suid-Afrikaanse o.23-padren, asook die tydtoets, gewen.
Hy was ook in 2004 die o.23-tydtoetskampioen en in 2009 het hy ’n silwermedalje in die padren vir beroepsjaers losgejaag. Die kans is goed dat Impey ook môre se padren oor 182 km sal wen.
Jay Thomson (Bissell) was tweede in die tydtoets en Darren Lill (DCM) derde. Hul onderskeie tye was 53:03 en 53:04.Dit is ironies dat dié jaers die eerste drie plekke verower het.
Al drie was lede van die Australiese Pegasus-span wat in Desember moes ontbind omdat hy nie genoeg borge gehad het om ’n Pro-kontinentale lisensie by die Internasionale Fietsryvereniging (UCI) uit te neem nie. Dit het daartoe gelei dat dié drie jaers inderhaas moes spook om kontrakte by ander spanne te beding.Volgens Impey is dié terugslag sy grootste motivering.
“Ek wil aan die internasionale fietsrygemeenskap bewys ek is steeds goed genoeg om in Europa deel te neem.
“Daarom het ek my voorgeneem om vanjaar soveel moontlik renne te wen. “Ek is dit ook aan my borge verskuldig wat my op só ’n kort kennisgewing gehelp het.
“Ek dink die uitslag van die tydtoets bewys hoe belangrik dit vir Suid-Afrikaanse jaers is om in die buiteland mee te ding. In internasionale renne leer jy gou dat jy nie kan lyf wegsteek nie.
”Cherise Taylor (USN) het die individuele tydtoets vir vroue gewen deur die 20 km in 45:50 af te trap.
Ashleigh Moolman (Nashua-Toyota) was tweede in 47:00 en Cashandra Slingerland (Cyclelab) derde in 47:59. Taylor is ook die padkampioen. Johann van Zyl (Toyota-SuperCyling) het die o.23-tydtoets gewen.