Dag van opskuddings by Wimbledon
2011-06-28 08:09
Londen – Daar was geen einde aan die drama op die sewende dag van die Wimbledon-tennistoernooi nie.
’n Verdedigende kampioen, ’n voormalige kampioen, ’n mans-finalis van verlede jaar én ’n eerste gekeurde het Maandag hier op die grasbane van Wimbledon in die stof gebyt.
Die Williams-susters, Serena en Venus, én Caroline Wozniacki het onverwags in die derde Grand Slam-toernooi van die jaar vasgeval.
Marion Bartoli het die verdedigende kampioen, Serena, met 6-3, 7-6 uitgeskakel. “Om Serena te klop, is soos ’n droom wat waar geword het. Sy het ’n jaar laas gespeel, maar bly een van die vernaamste kampioene in vrouetennis,” het Frankryk se Bartoli gesê.
Bartoli (9de gekeur) kom nou teen die Duitse promotorskeuse Sabine Lisicki, wat die derde gekeurde, Na Li van China, vroeër in die toernooi uitgeskakel het, te staan.
Bulgarye se Tsvetana Pironkova (8ste) het Venus, ’n vyfmalige kampioen, maklik met 6-2, 6-3 geklop.
Die voorste vrouespeler ter wêreld, Denemarke se Wozniacki, soek steeds haar eerste Grand Slam-titel nadat Dominika Cibulkova (Slowakye, 24) haar met 6-1, 7-6 ore aangesit het.
Een van verlede jaar se mans-finaliste, Tomas Berdych, is deur die Amerikaner Mardy Fish uitgeskakel. Fish (10de) het die Tsjeg (6de) met 7-6, 6-4, 6-4 geklop.
Australië se Bernard Tomic, wat moes kwalifiseer, het sy wildste verwagtinge oortref deur die jongste man in 25 jaar te word wat die Wimbledon-kwarteindronde haal.
Die 18-jarige Tomic het België se Xavier Malisse in ’n uur en 21 minute met 6-1, 7-5, 6-4 geklop om die eerste tiener sedert Boris Becker in 1986 te word wat so ver by die All England Club vorder. Tomic kom nou teen Novak Djokovic te staan. Dié Serwiër het die Fransman Michael Llodra met 6-3, 6-3, 6-3 huis toe gestuur.
Die verdedigende kampioen Rafael Nadal het Juan Martin del Potro van Argentinië in 'n taai stryd met 7-6 (8/6), 3-6, 7-6 (7/4), 6-4 geklop.
Roger Federer het die 18de gekeurde Rus Mikhail Youzhny met 6-7 (5/7), 6-3, 6-3, 6-3 gewen.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- Sapa - AFP