Daar’s groot fout met Caster
2011-08-17 07:02
Pretoria – Daar skort iets groots met Caster Semenya, Suid-Afrika se vroue-wêreldkampioen in die 800 m.
Só word daar die laaste paar weke al in plaaslike atletiekkringe gefluister.
Dié wat weet, voorspel dat Semenya gaan sukkel om oor 10 dae op die Wêreldbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea, haar 800-titel te verdedig.
Die atlete wat saam met haar by Tukkies se LC de Villiers-stadion oefen, vertel dat sy gereeld laat vir haar oefensessies opdaag en haar eie kop volg oor hoe sy moet oefen.
Daar word ook gesê dat sy oorgewig is.
Die mees kommerwekkende gerug is dat die verhouding tussen Semenya en haar afrigter, Michael Seme, nie is wat dit moet wees nie.
Jukka Härkönen, Semenya se agent, moet glo die skuld daarvoor kry.
Die rede waarom Semenya besluit het om nie aan die Wêreld-studentespele deel te neem nie, is nie net omdat sy effe las van ’n rugbesering het nie.
Härkönen het haar aangeraai om te onttrek, omdat daar kwansuis nie genoeg prysgeld op die spel is nie.
Dis nie die eerste keer dat hy die verhouding tussen ’n Suid-Afrikaanse atleet en sy afrigter probeer versuur nie.
Härkönen is die rede waarom Khotso Mokoena die afgelope twee jaar nie meer deur ’n erkende verspring-afrigter gehelp word nie.
Mokoena se vertonings die afgelope twee jaar vertel die volle verhaal.
Hy het verlede jaar omtrent glad nie deelgeneem nie omdat hy las van beserings gehad het – en vanjaar het hy met moeite vir die Wêreldbyeenkoms gekwalifiseer.
As vanjaar se atletiekstatistieke nagegaan word, is daar beslis rede tot kommer. Semenya se vertoningslys tot dusver in internasionale wedlope is niks om oor opgewonde te raak nie.
Semenya spog tans maar met die 13de vinnigste tyd vanjaar.
Haar beste tyd van 1:58.61 is byna 2 sekondes stadiger as Mariya Savinova van Rusland se 1:56.95.
Semenya kon net in Parys die 800 m op ’n Diamantliga-byeenkoms wen.
Haar wentyd was toe ’n beskeie 2:00.18.
Op die Diamantliga-byeenkoms in Stockholm was ’n duidelik oorgewig Semenya agtste in 2:01.28.
Die vorige twee jaar se statistieke dui duidelik aan hoe Semenya se vertonings sedert 2009, toe sy in Berlyn die goue medalje in 1:55.45 gewen het, agteruitgegaan het.
In 2009 het sy met die twee vinnigste tye in die wêreld gespog.
Haar wentyd van 1:56.72 op die Junior Afrika-byeenkoms in Mauritius was toe die tweede vinnigste.
Verlede jaar was sy maar die sesde vinnigste atleet met haar tyd van 1:58.16.
So dit wil voorkom asof Semenya in drie jaar amper 3 sekondes stadiger geraak het.
Die vraag wat dringend ’n antwoord kort, is of Semenya steeds goed genoeg is om die bestes in die wêreld te klop.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg