DA: ASA stel teleur
2009-09-24 19:33
Johannesburg - Die DA sê dit is uiters teleurstellend dat Atletiek Suid-Afrika (ASA) nie sy omstrede baas, Leonard Chuene, by 'n raadsvergadering afgedank het nie.
Donald Lee, die DA se woordvoerder oor sport en ontspanning, het in 'n verklaring gesê dit is vanselfsprekend dat Chuene moet waai, maar dit is kommerwekkend dat ASA hom steun.
"Chuene het vir die nasie gelieg. Hy het Suid-Afrika internasionaal verneder en hy het inbraak gemaak op Caster Semenya se reg op waardigheid."
Chuene het verlede week tydens 'n mediakonferensie erken dat hy geweet het van toetse wat op Semenya gedoen is, en dat hy gelieg het om haar privaatheid te beskerm.
Chris Brits, woordvoerder van ASA, het vroeër gesê Chuene behou se posisie as grootbaas van die atletiekfederasie nadat die ASA 'n vergadering gehou het waarin hulle die Caster Semenya-saga bespreek het.
"Wat meer moet iemand nóg doen om gestraf te word?" het Lee gevra.
Lee het gesê hy gaan 'n versoek aan Butana Komphela, voorsitter van die portefeuljekomitee oor sport en ontspanning, rig dat ASA by die volgende beskikbare geleentheid voor die parlement verskyn.
– Sapa