Contador speel kat en muis
2011-07-21 08:46
Pretoria – Edvald Boasson Hagen (Sky) het Woensdag bewys dat aanhouer wen toe hy in die 17de skof van die Tour de France eerste oor die eindstreep gejaag het.
Dié jaer van Noorweë is in die 16de skof deur sy landgenoot Thor Hushovd (Garmin-Cervelo) geklop en moes met die tweede plek tevrede wees.
Maar hy het hom nie twee keer laat uitvang nie. In Woensdag se skof het hy sowat 3 km van die bopunt van die laaste klim, Côte de Pra’ Martino (kategorie 2), versnel en alleen voorgejaag.
Boasson Hagen het daarna teen die afdraande kopgehou om die skof van Gap na Pinerolo (179 km) in 4 uur 18 minute te wen. Dit is sy tweede skofsege.
Bauke Mollema (Rabobank) het 40 sekondes later oor die eindstreep gejaag en Sandy Casar (FDJ) was derde.
Boasson Hagen het in ’n televisie-onderhoud gesê die 17de skof was die één skof wat hy wou wen. “Ek het voor die Tour die roete haarfyn bestudeer en ’n plan uitgewerk hoe ek die skof sou wen. My plan het uitgewerk.”
Die groot nuus bly steeds dat Alberto Contador (Saxo Bank) moeilik geklop gaan word.
Toe Contador nie voor die bopunt van die klim tyd kon opmaak nie, het hy teen die afdraande ’n aanval geloods. Dit het ’n grootse poging van die ander Tour-gunstelinge geverg om hom in te haal.
Contador se vreeslose benadering het daartoe gelei dat Thomas Voeckler (Europcar), die algehele voorloper, kop verloor het.
Dié Fransman het teen ’n draai beheer oor sy fiets verloor en teen ’n wal afgejaag. Dié nagmerrrie-ondervinding het daartoe gelei dat hy 27 sekondes ná die ander Tour-gunstelinge klaargemaak het. Hy is nou net 1 minuut en 18 sekondes voor Cadel Evans (BMC) en 1:22 voor Frank Schleck (Leopard Trek).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24