Contador sê jammer aan Schleck
2010-07-20 11:52
Madrid - Die Spaanse fietsryer Alberto Contador het Dinsdag jammer gesê vir die manier waarop hy die geeltrui in die Tour de France by die Luxemburger Andy Schleck afgeneem het.
In Maandag se 15de skof het Schleck se fietsketting afgeval net toe hy 'n aanval sowat 3 km voor die bopunt van die buite-kategorie-klim, die Port de Balés, wou loods.
In plaas van om Schleck kans te gee om sy ketting terug te sit, het Contador aanhou jaag om uiteindelik agt sekondes tussen hom en die Luxemburger te plaas en die geeltrui aan die einde van die skof oor sy kop te trek.
In 'n video wat op youtube gewys is, het Contador gesê: "Miskien het ek 'n fout gemaak. Ek's jammer. Ek hou nie van hierdie tipe dinge wat vandag gebeur het nie. Dit is nie hoe ek is nie en ek hoop die verhouding wat ek en Andy voor die skof gehad het, sal steeds so bly."
Contador het aanvanklik aangedring dat hy nie besef het dat Schleck se ketting afgeval het nie.
Schleck se ouer broer Frank, wat uit die Tour moes onttrek na hy sy skouerbeen tydens die derde skof gebreek het, het gesê sy broer is nou oorgehaal om wraak te neem en die geeltrui by Contador af te vat.
Lees die volledige artikel hier.
- SAPA