Contador positief getoets vir verbode middel
2010-09-30 06:00
Geelong, Australië - Die driemalige Tour de France-wenner Alberto Contador van Spanje het aangekondig dat hy positief getoets is vir 'n verbode middel.
Contador, wat in Julie sy derde Tour de France-titel gewen het, het die nuus deur sy persoonlike woordvoerder gebreek, maar het die uitslag van die toets blameer op voedselvergiftiging.
Hy het positief getoets vir die verbode middel clenbuterol.
Die Internasionale Fietsryvereniging (UCI) het vroeg Donderdagoggend 'n verklaring uitgereik en gesê Contador is "formeel en tydelik geskors".
Die UCI sê die saak word nog ondersoek en dat dit 'n rukkie kan duur.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- AFP