Comrades-wenner: 'Ek's onskuldig'
2012-07-01 22:51
Johannesburg – Ludwick Mamabolo, wenner van die Comrades-marathon, hou vol dat hy nie opsetlik enige opkikkers gebruik het nie.
Mamabolo het vir die eerste keer gepraat sedert hy positief getoets het vir die gebruik van 'n verbode middel.
"Ek het nog nooit gedurende my lang atletiekloopbaan wetend of opsetlik enige onwettige middels gebruik om my prestasie te verbeter nie, en hierdie jaar was nie anders nie," het Mamabolo Sondag in 'n verklaring gesê.
"Dit was nog altyd my droom om die Comrades te wen en om in die voetspore van my oom, die beroemde atleet Titus Mamabolo, te volg. Om dié wedloop te wen was my grootste oorwinning. Dis die grootste prestasie van my lewe, maar dit het verander in 'n nagmerrie.
"Ek was nie in staat om my oorwinning te vier nie. Ek weet nie wat om vir my familie te sê nie want my oorwinning is by my weggeneem."
Mamabolo, 35, was die eerste Suid-Afrikaner in sewe jaar om die ultra-marathon van 89 km op die roete van Pietermaritzburg na Durban te wen.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport het twee weke later aangekondig dat sy eerste monster positief getoets het vir 'n stimulant. Hy wag steeds op die uitslag van sy B-monster.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA