Clijsters deur na Aus-eindstryd
2011-01-27 13:03
Melbourne - Kim Clijsters van België het die Rus Vera Zvonareva Donderdag met een van haar beste vertonings in die halfeindstryd van die Australiese Ope geklop.
Die derde gekeurde Belg het in skoon stelle (6-3,6-3) in slegs 1 uur 13 minute met Zvonareva afgereken.
Clijsters het gesê sy het haar beste tennis in dié kragmeting gespeel.
Die enigste ander keer wat sy in die eindstryd van die Australiese Ope was, was in 2004 toe sy teen landgenoot Justine Henin vasgeval het.
Henin het gisteraand (Woensdagaand) vir 'n tweede keer haar uittrede aangekondig nadat sy 'n elmboog-besering in Melbourne opgedoen het.
In die tweede halfeindstryd is geskiedenis gemaak toe China se Li Na die eerste Asiatiese vrou geword het om na die eindstryd van 'n Grand Slam deur te dring nadat sy die eerste gekeurde Caroline Wozniacki in 'n taai stryd met 3-6, 7-5, 6-3 verslaan het.
Kliek hier vir 'n regstreekse telbord van die Australiese Ope.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24