Chuene vervolg oor atletiekgeld
2010-08-17 06:25
Pretoria - Leonard Chuene en ander lede van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se vorige bestuur gaan strafregtelik vervolg word.
Tubby Reddy, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), het Maandag gesê die finale verslag van die forensiese oudit wat gedoen is om ASA se geldsake te ondersoek, bevat verdoemende getuienis.
Reddy wou hom nie uitlaat oor die presiese omvang van die verslag nie, behalwe om te sê dat belastingontduiking, wanbesteding van ASA se geld en algemene swak bestuur van die punte is wat in die verslag uitgelig word.
Daar word aangevoer meer as R1 miljoen van ASA se geld moontlik wanbestee is.
“Kragtens die wet word Saskok verplig om die forensiese oudit-verslag aan die polisie en die nasionale vervolgingsgesag voor te lê. Daar is opdrag aan mnr. Ray Mali, waarnemende voorsitter van ASA, gegee om amptelike klagte teen sekere lede van die vorige ASA-bestuur by die polisie aanhangig te maak.”
Hoewel Reddy nie name wou noem nie, kan aanvaar word benewens Chuene gaan Molatelo Malehopo, die geskorste uitvoerende hoof van ASA, ook strafregtelik vervolg word.
Een rede waarom die forensiese oudit solank geneem het, is dat Malehopo glo verskeie sleutelbewyse vernietig het.
Die ondersoekspan het tyd nodig gehad om getuienis te herwin.
Volgens Reddy moet die reg nou sy beloop neem. “As Saskok gaan ons ons eie klagstate vir tugverhore opstel. Dit behoort teen aanstaande week afgehandel te wees.
“Iets wat ons beslis ook in die tugverhore gaan ophaal, is die manier waarop ASA die Caster Semenya-aangeleentheid hanteer het.”
Gerugte wil dit hê dat daar ook ’n ondersoek gedoen gaan word na bewerings dat sekere vooraanstaande oudbeamptes van ASA dwelms vir atlete wou koop.
Reddy meen daar is steeds ’n kans dat die verkiesing van ASA se nuwe bestuur teen einde September kan plaasvind.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg