Chuene se optrede ‘walglik’
2009-09-21 06:44
Wilhelm de Swardt
Johannesburg - Verskeie politieke partye het gister hul stemme gelas by die beroep dat atletiekbaas Leonard Chuene se kop moet waai nadat hy vir die regering, die land en die internasionale gemeenskap oor Caster Semenya gelieg het.
Chuene, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), se erkenning die naweek dat hy leuens verkondig het oor die feit dat Semenya in Augustus vanjaar reeds geslagstoetse in Suid-Afrika ondergaan het, is met woede reg oor die politieke spektrum begroet.
Politieke partye het Chuene en ASA se hantering van die Semenya-sage as “walglik”, “chauvinisties”, “gevoelloos” en “selfsugtig” beskryf. Hulle was dit eens dat Chuene en sy luitenante se optrede die land se naam deur die modder gesleep het.
Chuene het die naweek erken hy het gejok oor toetse wat in Pretoria op Semenya gedoen is voor verlede maand se Wêreldbyeenkoms in Berlyn.
Cope, die DA en die OD het Chuene se kop geëis, terwyl die ANC gesê het die beamptes wat die saak oor Suid-Afrika se 800 m-vrouekampioen by die Wêreldatletiekbyeenkoms gehanteer het, moet gekonfronteer word.
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het gister op ’n mediakonferensie in Johannesburg volgens Sapa gesê: “Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het na die Caster Semenya-saak gekyk en gemeen die manier waarop dit bestuur is, is walglik.
“ASA het nie die saak met uiterste deursigtigheid en eerlikheid hanteer nie.”
Dit het verlede week bekend geword Molatelo Malehopo, ASA se uitvoerende hoof, was die een wat toestemming gegee het dat Semenya verlede maand voor die Wêreldbyeenkoms in Pretoria toetse ondergaan.
Malehopo en Chuene het tot dié naweek – toe Chuene op ’n mediakonferensie by die Nasionale Persklub in Pretoria toegegee het hy het gelieg – volgehou hulle weet niks daarvan nie.
ASA se raad het intussen Sondag ’n noodvergadering by sy hoofkantoor in Johannesburg gehou oor die uitlatings wat Chuene Saterdag op die mediakonferensie gemaak het.
Geen besluit oor Chuene – wat soos Malehopo teenwoordig was – se toekoms is nog geneem nie en die raad vergader weer Donderdag. Chuene het op die mediakonferensie erken dat hy bewus was van die geslagstoetse wat op Semenya gedoen is.
Hy het gesê hy het daaroor gelieg omdat hy geglo het dis in haar belang.
Donald Lee, die DA se woordvoerder oor sport en ontspanning, het gesê Chuene, “wat vinnig besig is om ’n nasionale skande te word”, se “gevoellose en selfsugtige” optrede het slegte nagevolge vir Semenya en vir Suid-Afrika se beeld in die buiteland.
“Chuene se onmiddellike afdanking is die minste wat moet gebeur.”
- Die Burger
Kliek hier om te kyk na 'n video van Chuene se bekentenis, en om jou sê te sê oor die debakel.